TF Distr.

Kan ek GSCHV jagkoeëls teen dieselfde spoed skiet as loodkern en ander monometaal koeëls?

Dwarsdeur GS Custom se webwerf maak hulle dit duidelik dat GSCHV koeëls nooit 'ge-download' moet word nie en hulle spel dit ook uit in uitlatings soos 'the faster you drive them, the better they perform!'
Wat dan ook al male sonder tal in die praktyk bewys is!

In die enkele gevalle waar 'n jagter kla dat GSCHV jagkoeëls se prestasie op wild, nie aan sy verwagtings voldoen het nie, vind ons keer op keer uit dat die maksimum spoed, wat deur GS Custom in hulle laai data aangegee word as riglyn vir die verlangde, naastenby spoed waarteen die koeël behoort geskiet te word, nie aan voldoen is nie. Gevolglik die ontevredenheid met die koeël prestasie.

Laai data tabelle verskaf ook die nodige inligting aan herlaaiers om hulle geweer lope se lengtes in ag te neem by die aanpassing van die verlangde spoed, gebaseer op hulle spesifieke loop lengtes. Ook word aanvangsladings aangedui en word herlaaiers versoek om hulle ladings geleidelik op te werk na die spesifieke maksimum spoed van hulle eie gewere en deurlopend op te let vir tekens van oormatige druk in die lading ontwikkelingsproses.

In kort kom dit eenvoudig daarop neer dat die koeël vervaardiger se baie maklike en uitvoerbare voorskrifte stiptelik nagevolg moet word, om sodoende die volle voordeel van die produk te bekom. So maklik soos dit!

Hierna volg antwoorde op vrae wat aan GS Custom gestel is oor die spoed kwessie asook gewigsbehoud van die GSCHV jagkoeëls.

V. Verduidelik asseblief in watter opsigte die GSCHV koeël se werksverrigting behoort te verbeter met hoër tromp snelhede soos wat julle aanbeveel. ~ 20 Augustus 2011.

A. Meer spoed gee t.o.v. eksterne ballistiek:
1. Platter trajek.
2. Minder windskuif.
3. Korter vlugtyd.
4. Groter statiese stabilitiet.
5. Vinniger demping van die eerste en tweede nutasie nadat die koeël by die loop ontprop.
6. Groter reikafstand (point blank range).

Dit maak dus die eerste verantwoordelikheid van skootplasing soveel makliker vir die jagter.

Meer spoed gee t.o.v. terminale ballistiek:
1. Groter waarskynlikheid van reguit penetrasie.
2. Meer momentum vir dieper penetrasie.
3. Meer energie vir groter wondkanaal volume.
4. Groter bydrae van sekondêre wondkanaal tot die wondkanaalvolume.

Dus, 'n beter kans op die sukses van die oefening, of dan terminale jag resultate.

Bogenoemde geld net vir koeëls wat nie in stof verander by impak nie.

Opvolg vraag: In jou verduideliking sien ek niks van gewigsretensie nie, kan ek dus aanneem dat dit wel sal afneem met toename van impak spoed?

Opvolg A: Ek gebruik nie gewigretensie as 'n maatstaaf nie en, met GSC se HV en HP reekse is gewigretensie nie liniêr met spoed nie. Almal is gewoond aan die feit dat loodkern koeëls byvoorbeeld 100% retensie gee teen impakte van 1500vps, en dan progressief meer gewig verloor, soos wat die spoed opgaan, tot hulle teen 4000vps impak in stof verander.

Ek ontwerp om die koeël te sien oopmaak by impak van 1600vps af en 100% retensie te gee tot by 2500vps. Dit is beter gewigretensie as die meeste premium gebonde loodkern koeëls en ook beter oopmaak-betroubaarheid as die meeste ander koper koeëls.

Tussen 2500 en 2700vps impak sal 'n GSC koeël tipies 15% tot 30% gewig verloor om sodoende 'n beter metode van wondkanaalvorming te volg. Die gebreekte koeëlvorm is vooraf ontwerp om spesifieke eienskappe te behou. Ander ontwerpe begin kry vorms wat soms goed en soms sleg is.

Tussen 3000 en 4000vps impak sal daar soms nog 'n klein bietjie gewig afskrop, afhangende van die aanwending en kaliber. Teen hierdie snelhede is die meeste ander koeëls net fragmente.

By impakte van 4000vps, waar loodkern koeëls lankal handdoek ingegooi het, sien ons nog steeds 50% retensie en, baie belangrik, 'n koeëlvorm wat reguit penetreer en sonder tuimeling steeds sy werk doen.

Gewigverlies met GSC HV en HP koeëls is dus vooraf ontwerpte beheer, gebeur in stadiums en behels twee trappe van 100% tot hoogstens 50% en sonder tuimeling. Ander fabrikate se gewigverlies is meer liniêr met spoed, van 100% tot nul, en dikwels gepaard met tuimeling.

Net soos met enige ander produk, is dit 'n voorvereiste dat die vervaardiger se gebruiksaanwysings nougeset nagekom moet word, dit bloot om die verwagte voordele te kan bekom.

Geniet die 10 bogenoemde voordele, deur die GSCHV jagkoeëls teen die veel hoër spoed as ander jagkoeëls te skiet en keer op keer tevredenheid met u jag resultate te verkry.