
Christiaan Gunther van Aloeafrica, Dundee, KZN -
Hierdie Eland het ek geskiet met my 30-06 op 120m met 'n 130gr GS Custom HV gelaai met 55gr S335.
Die bul het 360kg uitgeslag en het 34" horings gehad.
Ek het myself voorgeneem om slegs 'n plank dwars, agter die blad, deur die longe, skoot te skiet. Maar soos dit maar gaan in die jagveld na 'n oggend se loop en sweet, staan die Elandbul vir my en kyk deur die bosse. Die enigste moontlike skoot is skuins van voor en ek moes probeer om tussen die knoppe en borsbeen deur die longe of hart te slaan. Ek wou eers nie, maar ek skiet mos met die beste koeël in die wêreld!
Die koeël klap soos 'n sweep toe dit die bul tref wat dadelik omswaai en soos 'n goeie hart-long skoot moet maak, voluit hardloop vir 150m, gaan staan, dronk rondswaai en toe omval.
Die koeël het beide die massiewe bors- en bladbeen geraak, maar nog steeds reguit gepenetreer om die longe te deurboor. Ek kon ongelukkig nie die koeël kry nie, maar die laaste koeëlmerk was teen die ribbes aan die teenoorgestelde kant - omtrent 8 duim agter my hand op die foto.